Beskrywing
AGTERGROND
Nicole en Pappa is mal oor hulle nuwe buurt en hulle het reeds ‘n klomp vriende gemaak. Daar is oom Samsodien met die mooi roostuin, tannie Bets met die poedels, die Masango-gesin met die twee klein dogtertjies, mevrou Carboni en haar kleinseun Luca met sy rekenaar en kitaar, die veearts en haar ontvangsdame, Simon in die rolstoel, en die busbestuurder wat elke dag vir Simon na sy toe skool neem.
Maar Nicole het steeds nie ’n maat van haar eie ouderdom nie. Iemand wat sy haar BESTE maat kan noem. Dan kom Zintle huis toe vir die skoolvakansie. Sy woon oorkant Nicole-hulle en al is sy blind, is sy baie onafhanklik en groot pret. Saam bou die twee maats vir Appelliefie ’n dam, maar hulle kry stry wanneer Nicole vir Zintle met alles probeer help, selfs met die dinge wat sy self kan doen. Asof dit nie genoeg is nie, is daar ook ’n droogte in Kaapstad. Hoe op aarde gaan hulle genoeg water kry om die dam vol te maak? Gelukkig is daar altyd hulp in ’n buurt soos hulle s’n …
OOR DIE OUTEUR
Wendy Maartens is ‘n skrywer, openbare spreker en versamelaar van eg Suid-Afrikaanse volksverhale, legendes, rympies en ware stories.
Sy leef in verwondering oor die krag van woorde, die blou-blou see en die mandjie stories wat elke mensekind saamdra.
Wendy put inspirasie uit die eenvoud van haar onmiddellike omgewing. Daarom is sy so lief vir Tafelbaai, die Weskus en die Overberg waar die stories van lank gelede laag op laag soos ‘n skulpmied lê.
Haar grootste droom is dat gesinne weer tyd sal maak om die stories van hul komvandaan om die etenstafel te koester. Dat elke dorp weer ‘n storieverteller sal hê wat laatmiddag op die dorpsplein stories uit die omgewing vertel. Maar bowenal dat ons sal leer om stilte die praatwerk te laat doen sodat ons kan onthou dat ons almal deel van dieselfde universele verhaal is.
LESERSPROFIEL
Voorskool en (jong) jeug







Resensies
Daar is tans geen resensies nie.