Wat is in ’n boek?

As jy vandag met net een ding hier wegstap, laat dit dít wees:

Boeke, en wat jy daarmee doen, kan een van die mees betekenisvolle dinge wees wat jy in jou kind se lewe saai!

Voorlees van boeke word keer-op-keer as een van die grootste bepalers van geletterdheidsukses en akademiese prestasie bewys.

Dis g’n wonder nie: ’n Studie aan die Universiteit van Ohio (2019) het bevind dat kinders vir wie daar daagliks in hul kleuterjare voorgelees is, skool toe gaan met blootstelling aan ’n miljoen ekstra woorde in vergelyking met hul eweknieë vir wie daar nie gelees is nie.

’n Ryk woordeskat laat kinders nie net toe om hulself verbaal beter uit te druk nie, maar word verbind aan suksesvolle leesbegrip en gekoppelde woordherkenningsvaardighede, asook beter prestasie in wiskunde.

Voorlees gee vir kinders die geleentheid om woorde te hoor wat nie noodwendig in alledaagse gesprekke opkom nie – en dit lei na verdere bespreking en uitbreiding.  Byvoorbeeld: ’n Kind sal nie sommer in sy alledaagse lewe ‘n kangaroe raakloop nie, maar deur ’n boek te lees kan hy sien hoe hierdie diere lyk en selfs leer waar hul voorkom. Die moontlikhede is eindeloos!

Afgesien van geletterdheid en akademiese sukses, bevorder voorlees van stories ook sosiale en emosionele ontwikkeling en ondersteun dit luistervaardighede en volgehoue aandag.  Dit skep ’n veilige omgewing vir onafhanklike leer en ontdekking.  Dit is in hierdie geval nie noodwendig die inhoud nie, maar die tyd wat saakmaak. ’n Kind kry die geleentheid om ’n sterker band met ’n geliefde te vorm, wat ruimte skep vir belangrike gesprekke.

Jy mag dalk wonder of blootstelling aan skerms dan nie dieselfde kan doen nie? Kinders word tog deur uitgekose, opvoedkundige stories te kyk ook blootgestel aan ’n verskeidenheid woorde, dan nie?  Die probleem lê egter in die feit dat skerms die frontale lob van die brein aktiveer, wat ontwikkeling daarvan hinder. Veral oorstimulerende, interaktiewe weergawes van skermtyd is die sondaars.

Die prefrontale korteks is alreeds die laaste deel van die brein om te ontwikkel en blootstelling aan skerms stel dopamien vry en aktiveer ’n plesier/beloning-siklus, wat veroorsaak dat die brein toenemend meer stimuli benodig en smag.

Navorsing wys dat skermtyd-onttrekkingsimptome gelykstaande is aan dwelm-onttrekingsimptome. Slapeloosheid, hiperaktiwiteit, gedragsprobleme, verminderde impulsbeheer, meltdowns, minder kreatiwiteit en onvermoë om emosies te reguleer is maar om ’n paar te noem.

Beter keuses rakende hoe, hoeveel en wanneer jou kind skermtyd kry kan egter ’n groot verskil maak. Hierdie is veral waar by kinders jonger as 7 jaar.

Voor skool of te naby aan slaaptyd moet liefs vermy word. Kies stories wat gedempte kleure, realistiese bewegings en natuurlike agtergronde bevat, met ’n kwaliteit storielyn en inhoud. Soek ook minder interaktiewe stories uit met geen betowerende animasie nie (byvoorbeeld Trash Truck, Puffin Rock en Julia Donaldson-animasiestories).

En natuurlik: Lees saam met jou kind voor slaaptyd, veral as hy baie blootstelling aan skermtyd deur die dag gehad het! Dit kalmeer die frontale lob (sodat melatonien afgeskei kan word) wat die brein gereed maak vir slaap. Goeie kwaliteit slaap is uiters belangrik vir die brein se ontwikkeling en groei.

 ’n Boek is werklik wonderbaarlik vir soveel verskillende redes! In vandag se wêreld waar almal jaag en die groter meerderheid van ons ons tyd voor een of ander skerm spandeer, is die tyd wat ons vry het die kosbaarste kommoditeit. So, gebruik dit wys en op dinge wat die grootste impak sal hê.

Kies boeke. Vir seker vir jou kind, maar ook vir jouself!

Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.

Genres

Instagram

Facebook