’n Warboelvrye skooljaar – Carla Lang

Ná wat dalk soos die langste vakansie in die geskiedenis van die mensdom voel (almal wat kinders het, weet waarvan ek praat …), is dit tyd om weer op dreef te kom. Dit is nóú die tyd om orde in die huis te herstel. En terwyl sommige mense van nature georganiseerd is, kan baie van ons doen met hulp in dié afdeling.

 

Hier is ’n paar wenke hoe om dinge reg te ruk vir die nuwe jaar:

 

KLERE:

Om jou kinders betyds aan te trek en by die deur uit te kry, is moeilik genoeg sonder die moeite om deur ’n wanordelike kas te moet krap. Om kinderklere so netjies en maklik toeganklik as moontlik te organiseer, sal jou lewe baie makliker maak en behoort jou kinders die selfvertroue te gee om self aan te trek.

 

  • Begin deur elke kinderklere-item bymekaar te maak – selfs dié in die wasgoedmandjie of wat rondlê in die huis. (Om jou huidige pakplek leeg te maak, sal jou ook help om die spasie te sien waarmee jy werk.)
  • Sit elke kind se klere op ’n aparte bondel; hanteer apart.
  • Sorteer die klere volgens groepe: Pas, Te groot, Skenk, Verkoop.
  • Die klere wat jy wil skenk pak jy alles saam in swartsakke en merk dit as “Skenk”. Maak seker om gouer as later van dit ontslae te raak, voor dit verder onnodige spasie opneem. Gaan laai dit by jou organisasie van keuse af, soos ’n kinderhuis, of adverteer op Facebook.
  • Neem foto’s van die klere wat jy graag wil verkoop. Adverteer dit op ’n gepaste platform, soos Facebook Marketplace of Yaga. Hou dit in ’n aparte swartsak wat jy uit die pad bêre tot dit verkoop word.
  • Te groot klere (soos ’n ouer kind se klere wat jy graag vir die jonger kind wil hou), kan in groot ritsluitersakke (beskikbaar by PEP en China Town) gepak word, gemerk word en bo in ’n kas weggebêre word. Elke 6 maande haal jy hierdie sak(ke) af en kyk wat pas en dus uitgepak kan word.
  • Sorteer klere volgens seisoen. Om spasie te maksimeer en maklike toegang tot gepaste klere te verseker, oorweeg dit om jou kind se klere seisoenaal te ruil. Bêre buite-seisoen klere op ’n aparte plek, soos in onder-bed-stoorhouers of in ’n toegewyde kasspasie.
  • Sorteer dan die klere wat pas en binne seisoen is volgens tipe item: rokkies by rokkies, onderklere by onderklere, ensovoorts. Pak dit so dat nie net jy nie, maar ook die kind maklik kan onderskei wat waar is en nie sukkel om daarby uit te kom nie. Jy kan selfs verder gaan en klere ook volgens kleur rangskik.

 

SKRYFBEHOEFTES:

Met ’n netjies, aanloklike “kuns-spasie”, vind kinders dit belangrik om hul skryfbehoeftes in orde te hou, wat die kanse verminder om dit te verloor of misplaas. Dit gee hulle ’n verantwoordelikheidsin en ontwikkel goeie organisasievermoëns wat hulle lewenslank kan bevoordeel. En natuurlik moedig mooi georganiseerde skryfbehoeftes hulle ook aan om meer kunsprojekte aan te pak.

 

  • Blinkers is waarskynlik die morsigste onder alle kunsvlytvoorrade. Stoor dit in deurskynende sout- en peperpotjies sodat die kleure sigbaar is. Volgende keer kan die kinders net gom smeer en die houertjie daaroor skud – en siedaar – skoon vingers en min gemors!
  • Gebruik deurskynende hangorganiseerders (dié waarin skoene gewoonlik gebêre word) vir gomstafies, botteltjies en ander voorraad. Sorteer dit soort by soort – een tipe item in een hangsakkie. Merk elke sakkie sodat die kinders (en jy) kan onthou wat kom waar.
  • Sulke hangorganiseerders kan ook baie goed werk vir Barbie’s. Sit elkeen in ’n aparte vakkie. Dit kan selfs gemerk word met elke pop se naam gekies deur jou kind.
  • Speseryrakkies is perfek vir houers met klein kunsitems in, soos ogies, knope, krale, en so aan. Sit elke soort item in ’n aparte deurskynende plastiekhouer (probeer glas vermy indien moontlik), en stal dit op die speseryrak uit, wat teen ’n muur in die kunsspasie vasgemaak kan word.
  • Vir klein kunsitems wat oorbly, kan deurskynende houers met kompartemente goed werk, of selfs weggooibare (of houbare) kolwyntjiebakkies.
  • Deurskynende plastiekhouers (of Mason jars) werk lekker vir skryfgoed. Sit soort by soort en merk die houers: Kleurpenne, Kleurpotlode, Koki-penne, Vetkryte, ensovoorts.
  • Selfs ’n stortrakkie kan nuttig gebruik word! Hang dit teen die muur. Pak skryfboekies bo-in en hang items soos skêre aand die hangplekke.
  • ’n Stel plastieklaaie is handig vir papiere en kleurkartonne, veral as jy ’n klein spasie het om mee te werk. Dit is goedkoop, mobiel en toeganklik vir die kinders. Pak pienk papiere in een laai, wit papiere in die volgende laai, rooi kartonne in die derde laai … Merk elke laai.
  • Oorweeg om ’n “herwinboks” in die kunsspasie te hou. Gebruik ’n ou boks en soos julle wil ontslae raak van herwinbare items, soos toiletrolle, papbokse en doppies, plaas dit eerder in die herwinboks. Kinders sal dit geniet om vir “skatte” te soek in die boks en iets daaruit te maak. Hulle verbeelding en kreatiwiteit mag jou dalk verbaas! Terselfdertyd leer die kinders wat herwinbare produkte is en hoe om na die omgewing om te sien.
  • Maak seker daar is ’n toonbank, tafel of lessenaar in die kunsspasie met stoele, sodat die kinders gemaklik kan sit wanneer hulle kuns wil doen. Die een gedeelte van die tafel kan gebruik word om van die los houers op te sit.
  • Plaas ‘n plastiektafeldoek oor die tafel (dié wat jy goedkoop by China Town of Crazy Store kan kry en gewoonlik by kinderpartytjies gebruik word). Teen die tyd wat dit vol verf en soortgelyke dinge gemors is, kan jy dit net afhaal, weggooi en ‘n nuwe een oorsit – en jou tafel het niks oorgekom nie.
  • Sorteer die boeke: aktiwiteitsboeke, inkleurboeke, skryfboeke, en so aan. Maak verskillende hopies en plaas dit onder die tafel of op die tafel. Maak seker die kinders weet dis waar die boeke gebêre word.

 

SPEELGOED:

Georganiseerde speelgoed verminder oorstimulasie en dra by tot beter regulering van ’n kind. Ook, wanneer minder opsies gegee word, speel kinders langer en op meer diverse maniere met dieselfde speelding. So, die goeie nuus is, kinders het nie baie speelgoed nodig nie. Organiseer eerder net dié wat jy wel het.

 

  • Begin deur die speelgoed te sorteer: Skenk, Verkoop, Weggooi en Hou.
  • Plaas die speelgoed wat jy wil skenk in ’n aparte sak en merk dit as “Skenk”. Gaan skenk dit so gou jy kan, sodat dit nie onnodige spasie opneem nie (of erger, die kinders dit raaksien en weier om daarvan afskeid te neem).
  • Dié wat jy wil weggooi, verdeel jy in twee hope: Herwinbaar en Nie-herwinbaar. Gooi die herwinbare speelgoed in ’n herwinningsasblik en die ander in ’n gewone asblik – so gou as moontlik.
  • Neem foto’s van dié wat jy wil verkoop en adverteer op die relevante platforms. Sit dit saam in ’n sak en merk as “Verkoop”. Stoor dit iewers uit die pad tot dit verkoop word.
  • Nou behoort daar net een hoop oor te bly: Hou. Sit speelgoed met dieselfde tema op ’n hoop, byvoorbeeld al die bouspeelgoed in een hoek, plaasdiere in ‘n ander hoek. Sodoende kan jy sien waarmee jy werk.
  • Roteringsisteem: As daar vyf poppe is, bêre eers twee in ’n boks of houer gemerk “Buite-rotering speelgoed”. Maak so met al die speelgoed. Hou net ’n paar van elke item in die speelarea. Pak dan die boks met die roteringspeelgoed in jou motorhuis of iewers waar dit uit die pad is. Elke twee of drie maande roteer jy die speelgoed. Jy sal verbaas wees hoe baie die kinders dit geniet. Dis asof hulle elke keer die speelgoed herontdek!
  • Plaas speelgoed met klein stukkies (dink aan plastiekkos en Lego) in aparte bokse wat maklik uit die speelarea verwyder kan word indien daar maatjies kom of julle ’n partytjie hou, of jy andersins voel dat dit nodig is om dit weg te pak om te verhoed dat klein stukkies verlore raak of orals verstrooi word.
  • Rangskik speelgoed volgens die speelarea. Kinders is meer geneig om te wil speel met iets wat hulle kan sien. So, om speelgoed op oop rakke of in oop mandjies te sit, werk beter as om dit in ’n speelgoedboks te begrawe. Sit byvoorbeeld bordspeletjies op ’n toegewyde rak, met die naam van die speletjie na voor.

Gebruik lae rakke of skep spasies wat maklik toeganklik is vir die kind. In ’n oop mandjie aan die een kant van die speelarea kan al die karretjies kom, in die ander houer die kombuisspeelgoed wat jy dan in ’n “kombuishoekie” plaas … Klein matte op die vloer kan ook gebruik word om areas van mekaar te onderskei.

  • Skaf ’n tweedehandse hangrak aan. Sit dit in die speelarea en hang die kinders se fantasiekostuums op sodat hulle kan sien wat daar alles is. Hulle sal meer geneig wees om soos ’n feetjie of seerower aan te trek as hulle die kostuums daarvoor kan sien, eerder as om dit te moet uitgrawe iewers onderin ’n krat.
  • Probeer om stelle bymekaar te hou. Byvoorbeeld, ‘n stelletjie wat bestaan uit ‘n klein huisie, ‘n poppie, ‘n tafeltjie en stoeltjies. Dit moet telkens weer gebêre word in die boks waarin dit oorspronklik gekom het. Indien die boks weg is of stukkend is, sit die stelletjie in ‘n plastieksakkie en knoop dit, of in ‘n zip lock-sakkie.
  • Indien daar speelgoed is wat jy nie wil hê jonger kinders self moet by kan uitkom nie, pak dit op hoër rakke.

 

Siedaar en jou speelkamer is omskep in ’n toweragtige speelplek vir jou kinders, waar hulle kan verander in enigiets wat hul harte begeer: ’n werktuigkundige, ’n kok, ’n prinses …

 

KINDERBOEKE

Ons wil almal graag ’n liefde vir lees by ons kleintjies kweek. Wat sal help, is om kinderboeke so te rangskik dat hulle mooi sigbaar en maklik toeganklik is. Dit sal ’n aanloklike leesarea skep en maak dit ook makliker om netheid te handhaaf.

Om ’n boekrak vir kinders te organiseer, is egter ’n bietjie anders as hoe jy dit vir jouself sou doen. Anders as volwassenes, is kinders geneig om boeke te herken op grond van kleure en omslagprente, eerder as die titel op die rugkant.

 

  • Skep nie net in die speelkamer spasie vir boeke nie, maar indien moontlik ook in elke kind se kamer. Dit hoef nie ’n groot boekrak te wees nie. Dit kan ook net ’n hangende rak of iets soortgelyks wees. Daar is baie dinge wat gebruik kan word as “boekrak”.
  • Sorteer elke kind se boeke apart, aangesien verskillende ouderdomme en geslagte aanklank vind by verskillende boeke.
  • Begin deur al die kinderboeke bymekaar te maak.
  • Groepeer die boeke dan rofweg: bababordboeke, prenteboeke, naslaanboeke, hoofstukboeke, seisoenale boeke, ensovoorts.
  • Herwin enige met geskeurde bladsye.
  • Sit duplikate opsy, asook enige wat jou kind ontgroei het of nie meer geniet nie. Die meeste openbare biblioteke sal boekskenkings aanvaar, terwyl kinderboeke vir babas/kleuters na kleuterskole in jou omgewing gestuur kan word. Dié wat jy nie wil skenk nie, kan jy altyd probeer verkoop.
  • Om ook boeke op ’n gereelde basis te roteer (soos speelgoed) is ’n goeie manier om dinge vars en interessant te hou. Dit is maklik om te doen: Vul twee of drie kratte/bokse met boeke (probeer om ’n verskeidenheid genres by elkeen in te sluit), en ruil die boeke dan elke maand of twee om. Alhoewel ’n rotasiestelsel wonderlik is, moet jy wel in gedagte hou dat jou kind gunstelinge sal hê. Plaas hierdie gunstelingboeke op ’n spesiale plek of gebruik boekverdelers om dit te skei van die ander boeke. Dié bly uitgepak en word nie deel van die roteringsisteem nie.
  • Alhoewel dit natuurlik sin maak om ’n spesifieke spasie in die speelarea uitsluitlik aan boeke te wy, kan ’n alternatiewe idee wees om boeke in verskillende sones te plaas in die speelarea, in ooreenstemming met hoe jy die speelgoed georganiseer het: kosboeke langs die kosmaak-speelarea; voertuigtema-boeke naby die hoek met karretjies; kreatiewe boeke langs die kunstafel, ensovoorts.
  • Plaas die boeke telkens met die voorblad na buite. Dit is ideaal vir jonger kinders wat gunstelingboeke aan die omslag herken, of vir daardie meer onwillige lesers wat ’n bietjie meer aanmoediging nodig het om ’n boek af en toe op te tel.
  • As jy boeke het waartoe jy nie wil hê jou kind moet toegang hê sonder toesig nie, soos dié met opspringbladsye wat maklik geskeur kan word, oorweeg dit om dit op ’n rak buite die kind se bereik uit te stal. Dieselfde kan gedoen word met besondere interessante boeke of boeke met buitengewoon mooi omslae, want dan dien dit sommer ook as dekor vir die vertrek.
  • ’n Verdere wenk is om die boeke nie net volgens genre uit te pak op die geïdentifiseerde spasies nie, maar elke genre ook volgens kleur te rangskik. Dit is bewys ’n kinderboekrak gerangskik volgens kleur moedig netheid en orde op die langtermyn aan. En ’n kleurstelsel lyk ook mooi, so dit kikker sommer die vertrek ook op – bonus!
  • Ruil elke maand of twee die kleure. Die kind sal dan van voor af weer opgewonde wees oor die boeke en ander titels raaksien.

 

AANDENKINGS

Kinders het ’n behoefte aan “ou goed” wat hulle verbind met hul familie en spesiale herinneringe. In die korttermyn skep aandenkings ’n onmiddellike gevoel van “ek behoort”, en oor die jare word dit ’n kragtige simbool van verhoudings in die kind se lewe. Maar waar om die gebreekte, stink skulpe te bêre wat die kinders elke keer optel as jul see toe gaan? Of die sakke vol klippies wat hy op vakansie bymekaargemaak het?

Die waarheid is dat baie van hierdie goed weggegooi kan word. Maar as die item ’n spesiale herinnering vir die kind inhou, bêre dit veilig. Eendag sal jou kinders dit ook baie spesiaal vind om terug te kyk op hul kinderjare.

 

  • Sorteer aandenkings. Saam met jou kind, besluit watter die spesiaalste is. Raak ontslae van die oorbodiges.
  • Dit wat oorbly bêre jy in ’n spesiale boksie vir jou kind; iewers weggepak waar maatjies nie daarby kan bykom wanneer hulle kom speel nie. Kry vir elke kind ’n ander boksie/houer – dalk sommer in sy/haar gunstelingkleur.
  • Vra jou kind wat hy onthou van waar die aandenkings af kom, skryf dit neer en stoor dit saam met die aandenking.
  • As jou kind moeilik afskeid neem van onnodige aandenkings, stel voor om eerder foto’s daarvan te neem en stoor dit digitaal op jou foon in ’n aparte “album”, gemerk “Aandenkings”.

 

KALENDER

’n Groot kalender sal jou lewe verander!

 

  • Kry ’n groot kalender (waarop jy kan skryf, afvee, en weer skryf) en hang dit iewers waar die hele gesin dit kan sien.
  • Skaf wasbare koki-penne aan en kies ’n kleur vir elke kind.
  • Skryf die huidige maand heel bo, byvoorbeeld: JANUARIE
  • Aan die regterkant, skryf elke kind se kwartaallikse buitemuurse aktiwiteite en tye daarvan ondermekaar neer (in die spesifieke kleur), Maandag tot Vrydag. Verander dit kwartaalliks soos nodig. Byvoorbeeld:

 

MAANDAG (swart)

Tennis 14:00-14:45 (blou vir jou oudste kind se aktiwiteite)

Gimnastiek 13:00-13:30 (pienk vir jou middelkind se aktiwiteite)

Dans 12:00-12:15 (groen vir jou jongste kind se aktiwiteite)

 

  • Vul die dae van die huidige maand op jou kalender in, en dan skryf jy by elke dag, elke kind se aktiwiteite neer in die gekose kleur. Tye word dan nie weer herhaal nie, want dit staan reeds teen die kant. Byvoorbeeld:

 

29 (swart)

Tennis (blou)

Gimnastiek (pienk)

Dans (groen)

 

  • Vee elke maand die dae skoon en skryf die nuwe maand se dae en aktiwiteite in, asook tussendeur soos nodig. Die aktiwiteite en tye aan die regterkant gaan jy gewoonlik net elke kwartaal hoef te verander (soos die kind se aktiwiteite verander volgens seisoen).
  • Probeer die kalender beperk tot skool, buitemuurse aktiwiteite, kinderpartytjies en gesinsaktiwiteite. Dus, as jy ’n naelafspraak het, teken dit eerder op jou foon se kalender aan. Maar as jy ’n ouervergadering by die skool moet bywoon vir jou oudste kind, voeg dit ook op die kalender en voeg ’n sterretjie vooraan wat daarop dui dat dit vir jou bedoel is:

 

29 (swart)

Tennis (blou)

*Ouervergadering

Gimnastiek (pienk)

Dans (groen)

 

  • Gaan verder en voeg sosiale geleenthede van die kinders ook by:

 

29 (swart)

Tennis (blou)

*Ouervergadering (blou)

Gimnastiek (pienk)

Eva partytjie (pienk)

Dans (groen)

 

  • Aktiwiteite wat die hele gesin gaan bywoon, byvoorbeeld ’n sosiale geleentheid oor die naweek, moet in ’n ander kleur aangedui word:

 

27 (swart)

Kuier by Van Zyl’s (oranje)

 

  • Om seker te maak jy kan na jou kalender kyk waar ook al jy jou bevind deur die dag, is dit ’n goeie idee om die kalender te kopieer op jou foonkalender. Doen dit een keer per maand en voeg dan by of verander soos en wanneer nodig. Dit gaan jou rustiger en in beheer laat voel.

 

Dalk klink bogenoemde wenke na iets wat aanvanklik baie tyd gaan opneem, maar dink so daaraan: Om georganiseerd te wees, help om dinge meer doeltreffend gedoen te kry, wat jou juis dan meer tyd gee om te fokus op die dinge wat jy werklik geniet. Boonop verminder ’n goed georganiseerde en warboelvrye ruimte stres en verbeter fokus, wat jou kinders (en jou!) sal help om die nuwe skooljaar met selfvertroue aan te pak.

 

We all like to spoil our children with lots of lovely things, but the psychology behind it shows that we may be causing them stress when we crowd their vision. Too much choice and decision can cause them to become overwhelmed and lose interest more quickly,’ explains professional organizer Vicky Silverthorn of You Need a Vicky.

 

Geniet jou warboelvrye 2024!

 

Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.

Genres

Instagram

Facebook