So dis ek, Pops, die kat en die hond wat oorbly in die kar op pad veearts toe β o ja, en die Spiderman-sambreel, verlate in die stoeltjie waar Boeta gesit het.
Daar aangekom stortreΓ«n dit steeds. Ek maak planne. Hoe sal ek al twee diere en vir Pops tegelyk binne kry?
Kan aan geen manier dink nie.
Goed, een vir een dan.
Ek trotseer die reΓ«n, gryp die katboks, maak seker die kar is gesluit en laat spaander na die ingang.
Storm Ontvangs binne en plak die katboks neer, groet haastig die twee tannies wat daar werk β wil hulle vra om βn oog oor die kat te hou terwyl ek vir Pops en die hond gaan haal. Maar voor ek βn verdere woord kan uitkry, spring die een tannie uit haar stoel op en retireer meters agtertoe met βn uitdrukking van afgryse op haar gesig.
Ek skrik. Is dit my grondboontjiebotter-besmeerde broek wat haar so afsit? Of is my oΓ« dalk nog swart besmeer van gister se maskara? (Kan nie onthou dat ek vanoggend in die spieΓ«l gekyk het nie.)
βVat daai ding weg!β hyg sy.
βHuh?β Ekβs verward.
βDie kat! Verwyder dit onmiddellik!β haar hand bewe soos wat sy na die katboks beduie. βEkβs allergies vir die feline-spesie!β
Ek dog eers ek hoor verkeerd. Besef toe sy maak seker βn grappie. Uit ordentlikheidshalwe forseer ek βn laggie.
Maar haar gesigsuitdrukking verander nie.
βTannie, my baba is in die kar. Kan ek asseblief net gou die kat hier los en haar gaan haal?β
As ek dan mΓ³Γ©t, kan ek hom dΓ³Γ©r ander kant in die hoek gaan sit.
Ek nael terug kar toe en kry die hond; terug Ontvangs toe. My oΓ« kort-kort op die kar. βTannie is seker nie allergies vir honde ook nie? Kan julle haar groot asseblief net gou vashou sodat ek my dogtertjie gaan haal?β
KatTannie sΓͺ neusoptrekkerig sy sal iemand gaan roep. Sy self wil nie vol hare word nie. NΓ‘ wat soos ure voel (maar in werklikheid seker net βn minuut was), met my oΓ« steeds op die kar, kom daar uiteindelik βn man aangestap β op sy gemak. Ek prop Hond se leiband in sy hand en laat waai terug kar toe voor hy enige vrae kan vra β vir die derde keer deur die reΓ«n.
Lyk nie of Pops eens agtergekom het ek was weg nie. Sy suig die oorskiet (no added salt and sugar-) grondboontjiebotter van haar hand af. Daarβs nie tyd om haar los te maak uit die karstoel en dan weer vas te maak in die stootwaentjie nie. Ek sit haar sommer karstoel en al (nog vasgegespe) in.
Uiteindelik is ons al vier binne. Ek verlos die man van my energieke hond en gaan sit in die wagkamer. Een minuut voor my afspraak. Sukses!
Pops begin kla; wil uitklim. Sy sal moet wag.
βWeeg jou canine.β
Ek hop soos wat ek skrik vir KatTannie se stem, en voor ek myself kan keer, sΓͺ ek: βDie wΓ‘t?β Verstom dat sy nie net normaal kan praat nie.
Hond is 10 kg oorgewig. Asof ek dit nie weet nie. Maar waar op aarde moet ek tyd kry om haar vir oefening te vat? Ek vat myself nie eens vir oefening nie.β.β. 45 minute later (en met βn helse duur sak hondepille, want Hond moet dringend op βn dieet gaan), staan ek weer voor KatTannie, reg om te betaal. Pops baie ongelukkig teen hierdie tyd.
Ek besluit om Hond net vir βn halwe minuut aan die stootwaentjie vas te maak terwyl ek gou betaal.
Net toe ek my kaart uithaal, gebeur dit.
Hond sien βn ander canine en laat waai by die dubbeldeure uit β stootwaentjie op die sy agterna.
Ek begin histeries op Hond te skree, los Kat netso reg bo-op KatTannie se toonbank en trek weg, agter die pram aan. Gelukkig luister Hond en stop nΓ‘ βn paar meter. Ek ruk haar leiband los en gryp die pram regop.
Maar Pops sit nog net so in haar karstoel, vasgegordel. Makeer niks. Het selfs opgehou neul. Kyk my net aan asof ek gek is om so te gil.
As dit nie vir die karstoel was nieβ.β.β.
Ek stap ontvangs weer binne met Hond en baba. Maak asof dit βn alledaagse ding is.
Betaal so gou ek kan, en met βn βVat nou die feline, ek voel al klaar hoe my neus begin toetrekβ in my ore, gryp ek die katboks in my een hand, roep vir Hond (sy bΓ©ter nou luister as sy weet wat goed is vir haar), stoot die stootwaentjie met my ander hand β en klap die deur agter my toe.
Carla Lang