Oukei, so vanoggend was wéér (dit gebeur hopeloos te veel) een van dáái oggende …
Ek moes myself forseer om op te staan ná ’n nag van min slaap (was onder andere van 01:30 tot 04:00 wakker) omdat Pops moeilik tande kry. (Die arme kind, dit kan regtig nie lekker wees nie.) Sy slaap nog in haar kampkot in ons kamer – “haar kamer” bestaan nog nie …
Op my tone sluip ek verby haar kot, maar ja, nes ek verwag het – die ou houtvloer kraak toe ek daarop trap en sy word wakker. En ons almal weet dat as kinders wakker word in die oggend, dan is hulle wákker!
Goed, so daar gaan my plan van eers vinnig ’n koppie koffie drink voor ek die dag aanpak. Gelukkig slaap vierjarige Boeta nog, want anders sou hy lankal my kamer ingebars het as een of ander superheld.
Ek besluit om Pops nog ’n rukkie in haar kot te los en tog daai koppie koffie te gaan haal. Ek ruik al die koffie wat my man 05:00 die oggend gemaak het voor hy werk toe is (dankie, Manlief!) en gooi ’n beker vol. Op pad mikrogolf toe gebeur dit – ek gly en val my alie af, papnat van (gelukkig) koue koffie.
Natuurlik, daar is Oros op die vloer.
Dit beteken Boeta slaap nie meer nie. En sowaar – hy hoor die val en kom ingejaag op sy driewielfietsie wat hopeloos te klein is vir hom maar waarvan hy nie wil afstand doen nie – sy knieë kom basies tot by sy ore wanneer hy trap.
“Wat doen jy?” wil hy weet en kyk my aan asof ek my varkies verloor het.
Net toe “beeb” my selfoon. My huishulp/regterhand (dankie tóg vir so engel in my lewe) is laat as gevolg van die alewige probleme met vervoer.
Dit beteken ek sal Pops moet saamry skool toe as ek vir Boeta gaan aflaai. Glad nie ideaal nie, maar nou ja. Ek hou egter moed dat Regterhand tog betyds sal opdaag, al is dit net vyf minute voor skool begin – dan kan ek dit nog maak.
Teen die tyd dat ek moet vrede maak dit gaan nie gebeur nie, ek “superhero-superhero” saam met Boeta gespeel het en vir Pops kort-kort moes optel en troos terwyl ek self vinnig probeer aantrek het, is ons lankal laat vir skool.
Ek besluit Pops ry in haar nagklere saam en Boeta kry net skoene aan – niemand sal weet hy’t in die klere geslaap nie, dit lyk nie regtig soos nagklere nie.
Met Pops wat ek vasknyp onder my een arm, my rugsak op my rug en skootrekenaar en sleutel in my ander hand, hardloop ek af kar toe.
Net om te besef die karstoel is in die huis.
En toe ruik ek dit – Pops het ’n doek gemaak.
Sy gaan nou maar moet uithou.
Ek los haar net daar op die garagevloer en hardloop terug.
Oukei, uiteindelik reg om te gaan.
Of nie.
Boeta wil ’n speelding saamvat skool toe.
“Regtig? Ons is laat. Kan ons môre?”
Groot fout. Kán ’n vierjarige ’n vloermoer gooi!
Dan maar terug in huis toe om ’n speelding te kry. En nie enige een nie. Hy vat sy tyd om te besluit wat presies hy wil saamvat.
Terug in die kar skakel ek haastig aan – net toe Boeta my herinner dat hy nie vasgemaak is nie.
Weer uit en om die kar. Oorreed hom om in sy stoel te klim. Maak vas. Jaag skool toe (Boeta natuurlik in sy noppies want ons ry “resies”).
Skooldeur lankal gesluit.
“Mamma, ons is eerste hier!!”
“Nee, my lief, ons is laaste …”
Maak verleë verskoning by Juffrou – jammer, dinge was effens rof vanoggend.
Die doek-reuk vang my weer toe ek in die kar klim – asook Pops se geneul.
“Ok, Pops, amper by die huis.”
Boodskap op my foon: Regterhand is by die huis. Dankie tog.
Ek’s verlig om vir Pops af te laai, want ek’t werk om af te handel. Daar’s nie tyd om Regterhand se dagtake met haar te bespreek nie, ek sal sommer ’n stemboodskap stuur.
Maar sy wil tog oor iets met my gesels.
Nes ek gedink het – sy oorweeg wééreens ’n ander werk, want sy wil nader aan haar kêrel wees.
Ek stres, maar kan my eenvoudig nie nou daaroor bekommer nie.
En ek jaag weg met ’n “ons praat later” deur die venster.
Op pad dink ek aan die koffie wat ek nooit gehad het nie – die eerste koppie oor my nagklere, die tweede een iewers in die huis (kan glad nie onthou waar ek dit neergesit het nie) – yskoud.