Hoekom doen jy dit aan jouself?
Om een of ander rede dink jy dis ’n goeie idee om jou kinders te neem vanuit ’n bekende omgewing waar daar ’n tipe roetine is en jy voel jy soort van dinge onder beheer het, na ’n vreemde omgewing met geen hulp en onbekende kamers en beddens, waar jy verseker is van nog minder slaap.
Jy skuif net die chaos van een plek na die ander – ’n plek waar jy helaas nie net kan gryp na ’n wynglas, dit té vol skink en té vinnig afsluk nie, want jy weet nie in watter kas die glase gebêre word nie …
Die persoon wat “Dis nie die bestemming nie, maar die reis wat tel” uitgedink het, was duidelik kinderloos.
“Is ons amper daar?”, “Dit va’ v’ewig!”, “Da’?” is van die vrae wat twee minute ná julle in die kar klim, begin.
“Nee, dis ’n agt uur lange rit.”
Hóékom het jy gedink dit sal goed werk om drie energieke skepseltjies vir ure lank styf teen mekaar in ’n klein spasie in te berg?
“AGT ure? WAT? Ek is SO verveeld!” “Ja, v’veeld!”
Jy mik ’n vies kyk na agter – hulle is dan gewaarsku dis ’n lang rit en jy soek geen klagtes nie – maar kan skaars jou oudste kind se gesig herken tussen al die bagasie.
Met verlange dink jy terug aan pakkery voor kinders: ’n paar kledingstukke, ’n boek, selfoon.
Ná kinders: klere vir die hele gesin, ekstra klere vir ingeval Kleuter nie kan knyp tot die naaste publieke toilet nie (sy piepie nié in ’n potjie langs die pad nie, dis “d”gusting”), of Baba melk oor haarself opspoeg, of Oudste sy koeldrank oor sy broek (en die iPad) mors. Elektronika, lekkers, lekkers, lekkers (wat, ongeag die kilo’s wat jy inpak, opgeëet sal wees teen die tweede dag), muskietafweerder, babaroom, gewone room, doeke, wetwipes, boudroom, fopspene, swemvlerkies, bottels, swembrille, sonroom, stootwaentjie, Minnie Mouse-pleisters, kinderboeke, gunsteling-“bersies”, gunsteling- sagte speelgoed … Maar behoede jou, maak nie saak hoeveel lysies jy maak en hoeveel tasse jy pak nie – jy sál iets vergeet. Iets soos “Kielie, die Mielie” (Kleuter se mielie in ’n plastiekbakkie met water in; “geplant” by die skool en toe huis toe gestuur sodat die ouers sit met die stink bruingroenerige vloeistof en die nat, grillerige mielie met takkies en blare wat na willekeur in verskillende rigtings uitgroei).
“EK WIL KIELIE HÊ!” sal vir ewig by jou spook.
Twee minute ná die eerste twee minute, begin die bakleiery. “Hy ha’ as’m op my!” “Ek moet asemhaal, anders kan ek nie lewe nie!” “Sy kyk na my!” “’K kyk die voëlpoefie op sy venste’!” En dan die bekende stank wat deur die kar trek en Baba se geneul wat harder en harder word (en feitlik sal aanhou tot julle oor ’n week weer by die huis kom) …
Jy hou later op met tel hoeveel keer julle aftrek by petrolstasies omdat iemand “nóú” ’n toilet benodig. En maak nie saak hoeveel keer jy “Moenie aan iets vat” herhaal nie, Baba sal vloeistof van die grond af oplek en Kleuter sal aan die toiletsitplek en olierige deurhandvatsel vat. Boonop sal jy agterkom die handseep is op.
Julle het besluit op ’n selfsorghuisie om halfpad te oornag. Wat’s die punt van betaal vir 3-Michelin-ster-etes as jy dit in elk geval koud gaan moet afsluk omdat jy al jou tyd spandeer om met die kinders te argumenteer om een happie te probeer (“Wa’s die chicken nuggets? En ‘matiesous?”), en om Baba se uitgespoegde kos van die grond af op te raap (en partykeer sommer in jou eie mond te druk) voor iemand sien hoe skandelik julle lewe.
En alhoewel daar twee kamers is, slaap julle in een kamer, want dis te “scêhie” in die ander kamer. Ná ’n bakleiery oor wie waar gaan lê, oor wie die hardste winde kan opbring en wie meer soos ’n padda lyk, raak die jong terroriste aan die slaap. Jy en jou man sit in die donker, drink uit blikbekers wyn en fluister vir mekaar.
As dank omdat hulle drie ure later mag gaan slaap het, beloon die kinders jou met vier minute later wakker word die volgende oggend.
Jy is moeg en seer, aangesien al drie deur die nag besluit het dat die dubbelbed vir hulle beter lyk en julle toe vier mense daarop moes pas – jou kop meer op die bedkassie as op die bed. Boonop was Oudste een keer op om “dringend te gaan piepie” (hoekom jy vir dié okkasie moet wakker wees, weet jy nie), Baba vier keer huilend op soek na haar fopspeen, en Kleuter om tweeuur die oggend wawydwakker en hardop aan die dink oor ernstige vraagstukke van die lewe, soos: “Hoe wetie Tandmuis ee’s wa’ o’s bly?”
Eggenoot was slimmer, het vroeg al in die ander kamer gaan lê. So, wanneer hy die oggend sy arms rek en die opmerking maak “Gisteraand was darem glad nie so sleg nie”, moet jy jouself beheer om nie ’n paar wilde klappe uit te deel nie.
Ná jy saam Kleuter moes kyk hoe ander kinders op YouTubeKids speel, sien julle uit vir nog ’n prettige dag in die kar.
Gewoonlik ag mense sonder kinders skermtyd as uiters negatief op die ontwikkeling van die jeug. In jou geval ag jy dit as noodsaaklik om nie heeltemal van jou trollie af te gaan nie. So, die iPad is veronderstel om die rit vir almal aangenamer te maak – en dit sou, indien die drie net kon saamstem oor wat om te kyk. Oudste wil Minecraft kyk, “of nee, Harry Potter. Of eintlik Pokémon”, Kleuter dring aan om vir die honderdste maal te sien hoe Peppa in modderpoele rondspring, terwyl Baba heeltyd “kwa-kwa” tussendeur (haar manier om te kommunikeer dat sy ’n program met eendjies op wil kyk).
Teen die tyd wat julle by die bestemming aankom, is almal goed dik van mekaar en wens jy die vakansie om.
Julle gaan strand toe. Ná die eerste vyf treë kla die kinders dis te ver, hulle is só moeg en kán nie verder stap nie.
Met Baba op jou heup, Oudste op Eggenoot se rug en Kleuter in sy arms, arriveer julle natgesweet op die strand.
Jy dink met ’n traan in die oog aan Ouma en Oupa by die huis – omdat jy nou niemand het om die kinders aan af te smeer nie.
Jy kyk vir tien sekondes af om die sonroom in die sak te soek; toe jy opkyk is die twee oudstes skoonveld.
Jy roep, skree hul name, draai in die rondte en soek hulle vuil gesiggies tussen die mense. Hordes moontlikhede hardloop deur jou brein oor wat moontlik met jou bloedjies kon gebeur het. Jy gryp na die ergste en slaag daarin om jouself te oortuig dat hulle ontvoer is deur ’n kinderslawerny-organisasie van Asië. Dis ’n verlore saak, hulle is seker al halfpad Kambodja toe.
Maar dan gewaar jy hulle doer vér. Jy stap haastig soontoe, sleepdra hulle terug.
Pas ná jy drie wriemelende lyfies met sonroom gesmeer het, besluit hulle om in die sand te rol, want dis “lekke’ assie sand a’n o’s vassit!” Terselfdertyd word al die handdoeke en drinkgoed sommer ook met sand versier.
Net toe jy uiteindelik wil gaan sit (op die koelsak, want jou handdoek is nou nie meer bruikbaar nie) om dalk, net dalk, twee bladsye te lees (jy behoort teen dié tyd te weet dat om vir jou ’n boek in te pak op ’n vakansie met kinders, is soos om ’n branderplank in te pak woestyn toe), begin die klaery oor hongerte.
Maar niemand wil jou piekniek eet nie. Dit lyk “eeuw!”. Baba verlustig haar veel eerder aan die seesand en -skulpe, terwyl die ander twee dit “nie meer kan hou nie” en “gaan flou val”.
Die volgende dag gaan julle weer strand toe – vir verdere marteling.
En die tydrowende proses om te besluit watter besienswaardighede julle gaan besoek – so baie dinge om in ag te neem: Is dit stootwaentjievriendelik? Is daar ’n plek om doek te ruil? Is daar ’n hyser? Is daar aktiwiteite waaraan die kinders sal kan deelneem? Gaan dit baie stap behels? Hoe lank gaan die uitstappie neem? (Julle moet immers betyds terug wees vir Baba se slapie, anders verander sy in ’n klein dementor).
Ná die twaalfde probeerslag om ’n gesinsfoto voor die bekende standbeeld te neem, gee jy op.
Moenie dink die kinders waardeer ’n duur vakansie nie. Nee wat. Hulle is veel meer geïnteresseerd in die klippies om die vakansiehuis, om met jou grimering te speel en om dieselfde deur oop en toe, oop en toe te maak. En natuurlik wil hulle weet of daar Netflix op die TV is.
Oplaas kom die heerlike vakansie tot ’n end en julle arriveer tuis. Jou energievlakke haal ongelukkig nie die kinders s’n nie. “JAY! Wat ga’ o’s nou doe’?”
Jy gee ’n groot sug en belowe jy doen dit nooit weer aan jouself nie … net om dit volgende jaar te herhaal.
https://www.facebook.com/KoueKoffieMa
Hoekom doen jy dit aan jouself? Oor moederskap en vakansiehou