“Poef-head, poef-head!” Pops sit bo-op die boksvrieskas terwyl Boeta langsaan by die tafel ontbyt eet. Of probeer eet …
Ek ignoreer dit en gaan aan met kosblikke pak.
“Hou op! Ek’s NIE ‘n poef-head nie!” vererg 9-jarige Boeta hom.
“Ja, jy is!” giggel Pops. “Poef-head, poef-head!”
“UGGGHHHH! Ek kan dit nie VAT nie!” slaan Boeta met die vuis op die tafel.
“Oukei, oukei! Pops, stop dit nou! Hou op sê ‘poef-head’. Dis regtig nie gaaf nie.”
“Maar dis funny …”
“NEEE, dit is NIE!” roep Boeta.
Kleinsus se kop gaan heen en weer tussen die twee, luister aandagtig terwyl sy helfte van haar eier op die grond gooi en die ander helfte eet. Kan sommer sien hoe haar 2-jarige brein alles soos ‘n spons opsuig.
“Kalmeer, Boeta.” Draai na Pops. “Stop dit, dadelik. Hou net op “poef” sê in elk geval. Dit klink so lelik.”
“Oukei …”
Maar ek hoor aan haar stem dis nie die einde nie …
“Nommer 2-head, Nommer 2-head …” begin sy sing.
“MAMMA! Ek kan dit nie HANTEER nie! Sy is SO irriterend!” stoot Boeta sy stoel hard terug en storm die kombuis uit.
“Pops, asseblief. Stóp dit nou! Dadelik. Jy leer vir Kleinsus ook verkeerd.”
“Oukei dan,” tilt sy haar kop. “Maar hy is tog so sensitief!”
“Wat? Waar kom jy daaraan?”
“Hy is! Sensitief.” Sy spring van die vrieskas af en huppel die vertrek uit.
“Wawa, poef!” sê Kleinsus toe net ek en sy oorbly. (Wawa – haar naam vir Boeta.) “Eeuw,” waai sy haar hand voor haar neus en trek haar neusie op ‘n knop.
“Ag nee, werklik, nie jy ook nie!” sug ek moedeloos …
Die middag ná skool, terwyl Boeta nog rugby oefen en Kleinsus “Af” kyk (Paw Patrol), moet ek saam met Pops “Juffrou-Juffrou” speel.
Ek sit op die mat, sy staan voor en beduie na die plakkate op die speelkamermuur.
“Oukei, klas. Sit nou mooi, haal asem en luister,” sê Juffrou. “Wat is 1 x 0?”
“Ek dink dit is 0, Juffrou,” antwoord ek gehoorsaam.
“Mooi! Jy word elke dag slimmer,” prys Juffrou my. Sien sy dink bietjie, draai dan terug na my toe: “Jy wás slim, hoor? Jy word net nóg slimmer. Want ons sê nooit vi’ ‘n maatjie hulle’s dom nie. So jy was nooit dom nie. Net bietjie minder slim. Maar dis goeie maniere om nie vi’ iemand te sê hulle’s dom nie. Al is hulle dom, sê ons dit nie,” preek Juffrou nou.
Wil nog verskil van die laaste gedeelte van haar stelling en verduidelik dat niemand dom is nie, maar Juffrou stoom voort: “Hoor julle, klas? Sit stil en haal asem. Ons mag nie ‘dom’ gebruik nie. Dis ‘n lelike woord. Nie ‘n vloekwoord nie, maar ampe’ soos ‘n vloekwoord. Oukei?”
“Oukei …”
“Pause game,” sê Juffrou-Pops. “Nie ‘oukei’ nie, Mamma. ‘Ja, Juffrou.’ Dis goeie maniere.”
“Ja, Juffrou …”
“Wat is 2 x 0?”
En so moet ek antwoord tot by 12 x 0. Dan die 1 x-tafel, dan die 2 x-tafel … Teen die tyd wat ons klaar is met die 6 x-tafel, besluit Juffrou gelukkig dis nou eers genoeg somme vir die dag.
“Nou ga’ o’s vorms doen. Haal asem, sit stil en luister.” Juffrou beduie na die vorms-plakkaat. “Goed, wat is hierie?”
“Dis ‘n hartjie, Juffrou,” antwoord ek.
“Pause die game gou weer. Mamma, jy moet nie altyd alles reghê nie. Kom o’s speel jy maak ook so 3 of 4 of 2 foute, oukei?”
“Oukei, ja, dis reg.”
“Unpause,” sê sy en gaan voort met die vorms. Hierdie keer maak ek seker ek maak ‘n paar foute …
Ná ‘n uur se Juffrou-Juffrou speel (wat meer soos 4 ure gevoel het), sê ek ek’s nou eers klaar. Kleinsus is lankal nie meer lus vir Paw Patrol nie en ek moet buitendien amper vir Boeta gaan optel.
Maar my 5-jarige middelkind is (natuurlik) nie tevrede hiermee nie.
“Neee! Ons speel nog! Jy het nog amper NIKS gespeel nie!” skiet die oë vol trane.
“Wat bedoel jy? Ek het ‘n volle uur saamgespeel.”
“’n UUUUUR! Dis soos amper NIKS! 53, of soos … 42 minute sou beter wees!!”
“Pops, ek moet regtig nou aandag gee aan Kleinsus. Dit ruik of sy ‘n doek ook gemaak het.”
“Da! Poef!” roep Kleinsus vanaf die TV-kamer.
“NEEEEE!” hou Pops aan.
“Stop dit. Ek het gesê ek is nou eers klaar.”
Pops spring op vanaf die stoel, gooi haar hande in die lug en sê met selfvertroue: “Jy gee my ‘n donnerse hoofpyn!”
Kan my ore nie glo nie.
“Wat het jy nou gesê?”
“Wat?” Kan sien sy probeer uitpluis wat presies sy verkeerd gesê het.
“Het ek reg gehoor? Het jy gevloek?” vra ek kalm. Kalmer as wat ek voel, in elk geval …
“Huh? Nee?” draai sy haar kop skuins.
“Jy het. Waar leer jy dit?”
“Ek verstaan nie!” roep sy, duidelik gefrustreerd.
“’Donnerse’ is ‘n vloekwoord. Ons gebruik dit nie in ons huis nie.”
“HUH? Waarvan PRAAAAT jy, Mamma? Jy jok!” Arms swaaiend in die lug, hoogs ontsteld dat ek haar kan beskuldig van so ‘n daad. “JY sê dit dan altyd! Jy sê altyd ons gee jou ‘n donnerse hoofpyn! Hoekom mag ék dit dan nie sê nie?”
Jip.
Waarheid.
En in my gedagtes wen ek net daar weer die Moeder van die Jaar-trofee …
2024