Lees in die Moedertaal speel ’n belangrike rol in ’n kind se ontwikkeling. Wanneer kinders geleenthede kry om in hul eerste taal te lees, bevorder dit nie net hul taalvaardighede nie, maar bou dit ook hul selfvertroue, kultuurverbondenheid en leervermoë. In Suid-Afrika, waar ons ’n rykdom van tale het, is dit verál belangrik dat kinders toegang het tot boeke en leesmateriaal in hul eie taal.
Kinders leer die beste wanneer hulle nuwe inligting in ’n taal ontvang wat hulle baie goed verstaan. As hulle van kleins af in hul moedertaal lees, ontwikkel hulle ’n sterker begrip van grammatika, woordeskat en leesbegrip. Hierdie vaardighede vorm dan ’n stewige grondslag waarop ander tale en vakke later gebou kan word.
Wanneer kinders in hul Moedertaal lees, versterk dit hul verbintenis met hul kultuur en gemeenskap. Verhale in eie taal weerspieël dikwels die waardes, gebruike en lewenswyses waarmee kinders kan identifiseer. Dit help hulle om hul identiteit te vorm en gee hulle ’n gevoel van trots in wie hulle is.
Ouers en onderwysers speel ’n sleutelrol in die bevordering van moedertaal-lees. Wanneer ouers tuis vir hul kinders lees of saamlees in hul eerste taal, word lees ’n prettige en belangrike deel van die kind se lewe. Onderwysers kan ook kreatiewe maniere gebruik om lees interessant te maak, soos dramatisering van stories of die gebruik van klankboeke.
Lees in die moedertaal is dus nie ’n luukse nie – dit is ’n noodsaaklikheid. Dit lê die grondslag vir suksesvolle leer, help kinders om trots te wees op hul kultuur en berei hulle voor vir ’n toekoms waarin hulle hul volle potensiaal kan bereik. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om seker te maak dat elke kind toegang het tot boeke en onderrig in hul eie taal.
(Carla Lang)