Mislukking of net mens? #kouekoffiema

Die afgelope paar dae voel ek soos ’n mislukking van ’n ma. Hoor myself gil op my kinders, voel die irritasie, maar kan myself nie help nie.

Boeta kla van soggens 05:20 tot saans slaaptyd oor skermtyd. Hy wil TV kyk of “apps speel”. Ek probeer tyd voor die skerm beperk, maar dis ’n alewige stryery. Pops het ’n vurige humeur, skreeu heeldag oor alles: as Boeta haar ’n drukkie probeer gee, as sy iets laat val, as sy ánder kos soek, as dit net lyk of Boeta dalk iets interessants beet het en sy mis uit, as ek buite haar sig is – oor enigiets. Dis asof sy wil seker maak ons weet sy’s daar. “My way or no way” is haar motto. Boonop wil sy ook heeltyd in die arms wees, en nie enige arms nie – myne.

Ek’s uitgeput.

Hoe moeiliker hulle raak, hoe moeiliker raak ek – hoe meer skuldig voel ek. Dalk spandeer ek nie genoeg tyd saam met hulle nie? (Maar ek spandeer meeste van my tyd saam met hulle … ); dalk nie genoeg kwaliteit-tyd nie? Maar ek sit gereeld my selfoon weg en bou legkaarte saam met hulle, spring trampoline, lees boeke, hou partytjies vir bere, bou ruimteskepe, veg aliens, bestudeer dooie goggas … So dit kan tog nie dit wees nie?

Ek slaap te min, besef ek. Maar saans as hulle gaan slaap, probeer ek nog aan Manlief aandag gee, werk, dalk ontspan deur ’n boek te lees of ’n storie te kyk. So teen die tyd wat ek my lig afsit, is dit seker te min slaapure wat oorbly.

So dan ís dit mos my skuld?

Maar gaan dit net in mý huis so?

Of in ander s’n ook?

Ma’s deel meestal net goeie goed op sosiale media. Foto’s van hulle pragtige kindertjies wat stroopsoet glimlag vir die kamera. Myne moet ek omkoop met twee sjokolades en drie ure meer skermtyd net om ’n halwe skeeftrek van die mond en ’n oomblik se stilstaan voor die kamera te kry.

Is ek ’n mislukking van ’n ma? Of net mens?

 

Dan gaan drink ek koffie by ’n mamma-vriendin. En deel hoe ek voel.

Toe voel sy ook gemaklik om te deel.

Ek luister aandagtig. Voel haar frustrasie. Weet waardeur sy gaan.

En besef: Dit gaan nié net so by my huis nie …

 

(Carla Lang 2020)

Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.

Genres

Instagram

Facebook

Mandjie