Boeke is ’n wondermiddel. Dit is iets wat vir meeste toeganklik is en die vermoë het om wêrelde oop te maak wat nie andersins moontlik sou wees nie.
Navorsing toon dat voorlees reeds voor ’n kind se geboorte breinaktiwiteit en vroeë taalontwikkeling bevorder. By geboorte herken babas hul ouers se stemme – en mag hul selfs van die klanke wat in hierdie stories voorgekom het, herken.
’n Artikel [1] deur Amerikaanse navorsers stel ses omstandighede in ’n kind se omgewing voor wat ’n beduidende impak op taalleer het. Elkeen van die punte kan aangespreek word deur saam met ’n kind te lees, wat boeke ’n ongelooflike hulpmiddel maak!
1. Kinders moet baie woorde, baie gereeld hoor
Boeke stel kinders aan ’n klomp nuwe en onbekende woorde bloot, en herhaal dikwels hierdie woorde in ’n verskeidenheid kontekste. Kinders gee ook nie om om dieselfde storie oor en oor te hoor nie, wat beteken dat hul blootstelling aan hierdie woorde nog meer toeneem.
2. Kinders leer nuwe woorde wanneer hul geïnteresseerd is
Dit is makliker vir ’n jonger kind om oor te dra waarvan hy/sy hou deur te wys na iets in ’n boek (as hy dalk nog nie die woorde daarvoor het nie). Gee dus aandag en let op na wat jou baba/kleuter vir jou wys terwyl julle saam deur boeke blaai.
Kies boeke in lyn met jou kind se belangstellings. Dit sal nie net gedeelde aandag aanmoedig nie, maar kan ook lei tot betekenisvolle gesprekke en nuwe ontdekkings!
Boeke met flappies en interessante teksture kan help om afwagting rondom wat volgende kom te skep. Wag voordat julle dit oplig en bespreek wat jul dink daaronder kan wees. Bespreek hoe iets voel of lyk. Jy kan ook ’n verskeidenheid stemme gebruik as daar meer as een karakter in die storie voorkom om ’n ekstra tikkie opwinding te skep.
3. Kinders leer die beste wanneer volwassenes positief teenoor hulle reageer en ingeskakel is
Voorlees skep die geleentheid vir ’n kind en ouer om kwaliteit-tyd saam te spandeer en ’n sterker band te vorm. Die positiewe terugvoer en belangstelling wat ’n ouer tydens hierdie gedeelde aktiwiteit toon, kan ’n groot impak op ’n kind se groei en leer hê.
As jou kind kommunikeer deur een-woord-uitinge te gebruik, kan jy as ouer die prente in ’n storie gebruik om langer frases aan te moedig. Byvoorbeeld: As jou kind “woef” sê, kan jy reageer deur “hond” of “hond blaf” te sê. Gee baie positiewe terugvoer as hy/sy jou naboots (“Ja, hond! Woef-woef! Of “Ja, die hond blaf!”).
4. Woorde word aangeleer wanneer die betekenis daarvan duidelik gemaak word
Boeke vir jong kinders het dikwels prentjies wat duidelik wys wat in die storie gebeur, wat die betekenis van onbekende woorde help oordra. Wanneer jy saam met jou kind lees, beklemtoon wat ’n nuwe woord beteken deur na die prentjie te wys en dit kortliks te bespreek. Jy kan aanpas hoeveel informasie jy wil gee en of jy jou stem/gebare wil gebruik, afhangend van jou kind se ouderdom en vlak van begrip. Byvoorbeeld: Gebruik ’n sagte stem wanneer jy lees “Sy fluister in haar oor” as jou kind nog nie weet wat “fluister” beteken nie. Jy kan selfs in jou kind se oor fluister wanneer jy dit lees!
5. Woordeskat en grammatika word saam geleer
Boeke is ‘n ryk bron van grammatikale strukture en konsepte wat kinders help om die reëls en patrone van taal te verstaan. Deur blootstelling aan korrekte sinstrukture en grammatika in boeke, leer kinders hoe om korrekte taalstrukture in hul eie spraak en skrif toe te pas.
Ouers is geneig om sinne te verkort (veral as ons kinders klein is), omdat ons dink dit is eenvoudiger vir die kind om te verstaan en leer. Hierdie tipe sinne (bv. “Lana, koekie?”) los egter belangrike grammatikale strukture uit wat kinders help om nuwe woorde en taalreëls te leer. Kort grammatikale sinne het meer waarde, bv. “Wil jy ’n koekie hê?”.
Boeke bevorder hierdie beginsel van taalleer omdat dit oor en oor vir ’n kind die geleentheid gee om nuwe woorde binne die grammatikale sinne van ’n storie te hoor. Hoe meer hulle die korrekte model hoor, hoe suksesvoller sal hul wees om dit korrek teen hul eie pogings en uitspraak te toets en “reg te maak”.
6. Kinders reageer op positiewe terugvoer/insette
Hierdie sluit aan by punt 3.
Kinders het positiewe, volgehoue gesprekke nodig om hul ontwikkeling te ondersteun. ’n Gesprek kom “positief” oor as ’n volwassene die kind se belangstellings erken, nuwe idees toevoeg, uitbrei op wat die kind gesê het en belangstelling in die kind toon.
Die waarde hiervan word baie mooi uitgebeeld in Phyllis Hunter se vergelyking van 3 ma’s en ’n eiervrug (2):
Die eerste ma stoot haar trollie in die kruidenierswinkel se gangetjie af, waar haar kleuter ’n eiervrug raaksien en vra wat dit is. Die ma maak die kind stil.
Die tweede ma, met dieselfde vraag in die gesig gestaar, reageer kortaf: “Dis ’n eiervrug, maar ons eet dit nie.”
Die derde ma koer: “Oe! Dit is ’n eiervrug! Dis een van die min pers groente wat mens kry.” Sy tel dit op, gee dit vir haar kind en moedig hom aan om dit op die weegskaal te sit.
“Wow, kyk dit is amper ’n halwe kilogram! En dit kos R50 per kilogram, so dit sal omtrent R25 uitwerk. Dit is bietjie duur, maar jy hou van hoender-parmesan, en eiervrug met parmesan is ook heerlik. Jy sal mal wees daaroor! Kom ons koop een, vat dit huis toe en sny dit saam oop. Dan maak ons ’n nuwe dis.”
Dit is maklik om te sien hoe die kleuter in die derde geval baie meer uit die uitstappie as die eerste twee kinders gekry het. Dieselfde geld wanneer jy ’n boek saam met jou kind lees. Maak jy jou kind stil wanneer hy/sy ’n vraag vra of ignoreer dit dalk heeltemal en lees verder? Wil jy so vinnig as moontlik deur die storie kom wanneer julle snags saamlees? As julle albei moeg is teen die tyd wat julle in die bed klim, is dit dalk meer waardevol om voor etenstyd ’n storie saam te lees, of ná badtyd.
Opsommend
Boeke dra soveel waarde. Lees. Gereeld. Oor en oor. Volg jou kind se leiding. Luister. Brei uit. Moenie jaag nie. Jou kind (en jy!) sal die (eier)vrugte daarvan pluk.
1. Dickinson, D. K., Griffith, J. A., Michnick Golinkoff, R., & Hirsh-Pasek, K. (2012). How Reading Books Fosters Language Development around the World. Child Development Research, vol. 2012.
Beskikbaar aanlyn by: http://www.hindawi.com/journals/cdr/2012/602807/cta/.
2. How Do Families Matter? Understanding How Families Strengthen Their Children’s Educational Achievement. The Foundation for Child Development.
Beskikbaar aanlyn by:
https://www.fcd-us.org/how-do-families-matter/