Gee die geskenk van ’n boek hierdie Kersfees!

As jy steeds wonder wat om vir daardie bloedtjies hierdie Kersfees te koop, hou ons van die “drie-geskenk”-tradisie van:

– iets om te lees;

– iets om te dra; en

– iets wat jy graag wil hê/nodig het

 

Hierdie drie-geskenkreël is ’n verwysing na die drie Wyse Manne se geskenke van goud, wierook en mirre aan baba Jesus. Die idee is om drie geskenke met ’n spesifieke doel in gedagte te gee. So leer ons ook ons kinders van dankbaarheid en dat Kersfees oor meer as net “hoeveel geskenke ek kan kry” gaan. Vat dit selfs nog ’n stappie verder en skenk ’n boek, klere en benodighede aan kinders wat minder bevoorreg is.

 

Ons deel graag weer ’n gedeelte uit ’n vorige artikel wat die wonder van boeke beklemtoon:

 

Boeke, en wat jy daarmee doen, kan een van die mees betekenisvolle dinge wees wat jy in jou kind se lewe saai!

Voorlees van boeke word keer-op-keer as een van die grootste bepalers van geletterdheidsukses en akademiese prestasie bewys. 

Dis g’n wonder nie: ’n Studie aan die Universiteit van Ohio (2019) het bevind dat kinders vir wie daar daagliks in hul kleuterjare voorgelees is, skool toe gaan met blootstelling aan ’n miljoen ekstra woorde in vergelyking met hul eweknieë vir wie daar nie gelees is nie.

 

’n Ryk woordeskat laat kinders nie net toe om hulself verbaal beter uit te druk nie, maar word verbind aan suksesvolle leesbegrip en gekoppelde woordherkenningsvaardighede, asook beter prestasie in wiskunde.

 

Voorlees gee vir kinders die geleentheid om woorde te hoor wat nie noodwendig in alledaagse gesprekke opkom nie – en dit lei na verdere bespreking en uitbreiding.  Byvoorbeeld: ’n Suid-Afrikaanse kind sal nie sommer in sy alledaagse lewe ’n kangaroe raakloop nie, maar deur ’n boek te lees kan hy sien hoe hierdie diere lyk en selfs leer waar hul voorkom. Die moontlikhede is eindeloos!   

 

Afgesien van geletterdheid en akademiese sukses, bevorder voorlees van stories ook sosiale en emosionele ontwikkeling, en ondersteun dit luistervaardighede en volgehoue aandag. Dit skep ’n veilige omgewing vir onafhanklike leer en ontdekking. Dit is in hierdie geval nie noodwendig die inhoud nie, maar die tyd wat saakmaak. ’n Kind kry die geleentheid om ’n sterker band met ’n geliefde te vorm, wat ruimte skep vir belangrike gesprekke.

 

Volg gerus die skakel:

https://kouekoffieboeke.co.za/product-category/kers-idees/

 

Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.

Genres

Instagram

Facebook

Mandjie