Dis oukei om nie oukei te wees nie
Gister word ek wakker met ’n swaar gevoel. Geen spesifieke rede nie (alhoewel ’n ma mos maar altyd heelwat het om haar oor te bekommer).
Net een van daai dae.
Voel af.
En dadelik tref die skuldgevoel my: Ek het niks om oor af te voel nie en moet myself regruk, daar’s kinders om na om te sien. Nie tyd om aan myself en my gevoelens te dink nie.
Ek kyk na Pops wat regop staan in haar kot en my aandag probeer trek deur soos ’n leeu te brul. Altyd ’n nar; kan haar opvreet.
Maar vanoggend kan selfs haar lawwigheid my nie beter laat voel nie.
Dan hoor ek die driewielfiets in die gang afkom.
Boeta, Eggenoot agter hom – ’n koppie warm koffie in die hand. Stoom trek nog daaruit. Het besluit om later kantoor toe te gaan en my eers te help met die kinders. Herinner myself weer daaraan dat daar nie rede is om af te voel nie.
Maar voel al hoe skuldiger.
Kry niks om aan te trek nie. Ongemaklik in alles. Swangerskapgewig is ’n pes!
Maar Boeta kyk my op en af en sê: “Mamma is die mooiste dogtertjie in die hele wêreld.”
Ek kry sommer trane in die oë.
Verrig my take soos ’n robot, doen wat gedoen moet word, speel “waar’s hy, waar’s hy” met Pops, blaf soos ’n hond en trompetter soos ’n olifant, ruil doeke op autopilot, antwoord stemboodskappe met my gewone vriendelike stem …
Maar ai, die drukking op die bors wil my nie los nie. En die skuldgevoel ook nie.
Later die middag kom Boeta aangehardloop. Die driewielfiets het gebreek.
Ek het dit sien kom. Die mandjie het al maande gelede afgebreek. Goedkoop fiets – China Town. Maar hy hou meer daarvan as sy duur regte-egte fiets.
My moed sak sommer in my skoene. Het net nie krag om vandag vloermoere te hanteer nie.
Maar Boeta verras my. “Toema, Mamma, dis niks. Ek kan steeds ry.”
Verlig glimlag ek effens vir die komieklike prentjie. Hy op die pyp van die fiets en trap steeds met sy lang bene, die saal heeltemal afgebreek.
Ek’s moeg. Só moeg.
Herinner myself weereens daaraan dat ek geen rede het om te kla of af te voel nie. Moet oor myself kom.
Regterhand sien ek voel nie lekker nie. Bied aan om bietjie met die kinders te speel sodat ek bietjie kan lê.
Hemels – kan nie onthou wanneer laas ek in die dag geslaap het nie.
Voel tog effens beter toe ek ná 45 minute opstaan (kon nie langer lê nie, want het my heeltyd verbeel ek hoor Pops huil).
Maak vir myself warm sjokolade.
Staan en kyk ’n rukkie hoe daar buite “superhero-superhero” gespeel word. Boeta kan moeilik kies tussen Spiderman, Ben 10, Hulk, Batman en Superman. So gewoonlik het hy sommer almal se superkragte ineen. Hy altyd die held, dié wat saamspeel altyd die skelms. ‘n Giggel borrel onverwags oor my lippe.
Boeta kom aangehardloop. “Mamma, ek het vir jou iets!” Druk vyf lieflike pienk bloeisels in my hand. Snaaks hoe ’n vierjarige die een dag ’n terroris en die volgende dag ‘n engeltjie kan wees.
Ek neem oor by Regterhand. Sy is immers nie hier om na die kinders om te sien nie, maar my te help met die huiswerk, dink ek en voel sommer dadelik weer skuldig.
Ek, Pops en Boeta gaan speel in die tuintjie wat ek besig is om vir hul in te rig – met modderkombuisie, sandput en al. Pops klim teen my been op. Toe ek haar optel kry ek een van haar papnat-, oopmond-, met tong-soene op my wang. My hart word warm.
Boeta kom nader en gee my een van sy stywe drukkies. “Ek’s só verskriklik lief vir Mamma!”
Voel hoe my hart ligter word.
Later staan ek op, vee die sand van my (te stywe) broek af en sê vir die kinders dis badtyd.
Hoor Barney se “It’s OK to cry”-note wat deur die venster aangesweef kom.
En besef – dis heeltemal orraait om soms af te voel. Ek hoef nie skuldig te voel daaroor nie. En ek mag maar hulp vra en aanvaar.
Dis oukei om nie altyd oukei te wees nie.