KoueKoffieBoeke gesels met Philip de Vos:
Wat is jou gunstelingversie in Vandag is ek ’n Windlawaai?
Hier sal ek twee moet kies: VOOR DIE KAGGEL en DIE DIGTER PRAAT
DIE DIGTER PRAAT
Die kind van gister
word ’n man.
’n Man wat doen
wat manne kan.
’n Man wat reis
na verre lande,
ander mense, ander strande.
’n Man wat later alles weet,
maar gou sy lentedroom vergeet.
Jy –
met jou baadjie en jou das,
haal daai houtperd uit sy kas.
Voel sy spiere,
ruik sy sweet,
reis weer na jou groen planeet.
Gryp die sonlig.
Gryp die dag.
Die Land van Slaap
lê voor en wag.
My Bloemfontein-dae is al lankal verby en ek is nou ’n baie, baie ou man is. Maar ja, ek het wel ’n digter geword en het in my lewe na baie verre lande gereis, selfs na Paaseiland (Easter Island) – die mees afgesonderde eiland in die hele wêreld.
En die belangrikste van alles – ek het nooit die wonder van kindwees of my kinderjare vergeet nie.
Hoe lank het dit jou geneem om die verse te skryf vir Vandag is ek ’n Windlawaai?
Miskien ’n maand altesame, want ek het terselfdertyd Engelse versies geskryf. Hierdie boek is geïnspireer deur Kinderszenen/Kindertonele (musiek van Robert Schumann) en ek moes dus tegelykertyd na die musiek luister en versies in beide Afrikaans en Engels skryf.
Wie is jou gunstelingkomponis?
My gunstelingkomponis is definitief Wolfgang Amadeus Mozart. Hy het alreeds vanaf die ouderdom van vyf jaar oud musiek gekomponeer en is op vyf-en-dertig oorlede.
Een van my eerste boeke was juis getiteld Wolfgang Amadeus Muis (1986) en ek het later TRAZOM (“Mozart” agterstevoor) geskryf oor Mozart se jeug. Ek het ook ’n versie oor hom in my boek Beware of the Canary geskryf.
Hoekom dink jy moet mammas Vandag is ek ’n Windlawaai vir hul kinders voorlees?
Ek dink hierdie boek moet vir kinders voorgelees word, want dit is oor al die wondere van kindwees – en dit is oor bome en oseane en drome en oor dinge wat ’n kind sou ken – en belangrikste van alles: met hard voorlees, hoor kinders die wonders van Afrikaans met sy ritmes en klanke.
Vertel ons iets interessants oor jouself.
Of dit interessant is weet ek nie, maar ek gaan dikwels gimnasium toe, en elke keer as ek op die oefenfiets sit, kom daar nuwe versies in my kop.
Ek is daarby baie lief vir diere – vir honde en allerhande goggas. In my hele lewe het ek nog nooit enige insek, selfs ’n muskiet, doodgemaak nie, en voel nou nog sleg oor ek twintig jaar gelede per ongeluk op ’n slak getrap het. Daarby is ek al byna dertig jaar lank ’n vegetariër nadat ek Babe (’n film oor ’n pratende varkie) gekyk het.
Vandag is ek ’n Windlawaai, geskryf deur die geniale Philip de Vos en asemrowend geïllustreer deur die bekroonde Piet Grobler, is nou beskikbaar by KoueKoffieBoeke, hier. |