Celest Lotter Nirenstein is die skrywer en illustreerder van die opwindende boeke: Kaaskoek eet die wêreld en Cheesecake eats the world.
Kaaskoek, die stadsduif, reis om die wêreld op soek na avontuur en lekkernye. Reis saam met Kaaskoek en besluit watter dis vir jóú die lekkerste is.
KoueKoffieBoeke het met Celest gesels:
Is skryf jou voltydse werk?
My day job bestaan uit baie verskillende rolle. Soggens is ek ’n haarstilis, ’n sjef en ’n drywer vir my twee dogtertjies. En terwyl hulle by die skool is, is ek ’n skrywer en ’n skilder. Ek hou ook daarvan om te gaan stap en na die see te kyk, of om kuns te gaan besigtig.
Hoe het die storie van Kaaskoek ontstaan?
Een aand, in ’n oomblik van lag en laf-wees, het ons ’n bedtydstorie opgemaak oor ’n duif met die naam Cheesecake. Hy is gebore uit ons gesin se kollektiewe verbeelding.
Toe my kinders jonger was, het ons gereeld by Woolworths gaan ontbyt eet – en die twee het meer die duiwe gevoer as wat hulle self geëet het.
Toe COVID ons tref, het ek ons ontbyt-oggende gemis en toe die duiwe begin teken. So het ons slaapstorie in ’n boek verander.
Waar kom die naam “Cheesecake” vandaan?
Dis ’n prettige naam wat ons al daai duiwe noem.
Vir watter ouderdom kinders is die boek geskryf?
Van baba tot 10 jaar oud.
Kan ons nog boeke uit jou pen verwag?
Daar is onlangs ’n boek van my gepubliseer: Alex’s Magical Boots. Dit is op hierdie oomblik verniet beskikbaar op die uitgewer se webwerf. Die boek is geskryf om vir benadeelde kinders ’n lekker storie te gee wat hul verbeelding sal opkikker. Die boek is baie na aan my hart, want vir baie kinders sal dit die eerste of selfs die enigste boek wees wat aan hulle self behoort.
Verder is ek ook besig met die tweede Cheesecake-boek.
Kaaskoek eet die wêreld en Cheesecake eats the world is beskikbaar by KoueKoffieBoeke. |