KoueKoffieBoeke gesels met Thana de Clerk:
Thana de Clerk (1967) is ’n bedryfsielkundige en lewensafrigter. Sy word groot in Durbanville, waar sy ook matrikuleer. Ná skool studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch en in 1991 voltooi sy haar meestersgraad in Bedryfsielkunde. In 2003 verwerf sy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg. Thana woon tans op Stellenbosch en Prins Albert saam met haar lewensmaat, Marius Scholtz.
Wanneer het jy begin skryf?
Juan en die bidsprinkaan is my eerste boek. Ek het begin notas maak tydens my Camino-staptog in 2016 – op die vooraand van 50!
Ek was so geraak deur hoe Juan hierdie eerste ervaring van dood in sy lewe verwerk het, dat ek dit ook uit my eie lyf moes skryf in my Camino-dagboek.
Ná die stap het ek gedink my dagboek is weg, maar toe ontdek ek my notas tydens Covid toe ek my kaste regpak. Ek was so opgewonde en geïnspireerd, dat ek die notas tydens Covid in boekvorm omskep het onder die leiding van Marlene Malan van Turksvy Publikasies.
Wat het aanleiding gegee tot die boek Juan en die bidsprinkaan?
Juan en Lienke, die tweeling, is my broerskinders. Ek is baie na aan hulle (ek het nie my eie kinders nie).
Die vriendskap tussen Juan en Annelien (die bidsprinkaan wat hy aangehou het as troeteldier) was besonders. Hy is ’n seuntjie wat van kleins af (en nog steeds) baie naby aan sy hart lewe en nie bang is om dit wat hy voel te verbaliseer of te wys nie. Lienke leef om goed te doen vir ander, en haar liefde en ondersteunende verhouding vir haar tweelingbroer is vir ons ’n voorbeeld. Hulle was my inspirasie!
Vertel ons iets interessants oor jouself.
Ek het ‘n passie vir die natuur, en om te stap of fiets te ry waar min ander mense kan kom is vir my die lekkerste! Ons woon van volgende jaar af permanent in Prins Albert en ek sien uit om sommer baie tyd in die Swartbergpas en op die grondpaaie van Prins Albert te spandeer!
Juan en die bidsprinkaan en Juan and the Praying Mantis is nou beskikbaar by KoueKoffieBoeke. |