KoueKoffieBoeke gesels met Elsa Winckler:
Jy is bekend as romanse-skrywer, maar het ook twee kinderboeke op jou kerfstok. Wat het gelei daartoe dat jy dié projekte aangepak het?
Ons kleinkinders. Daar gebeur net iets met ’n mens se hart as jy ’n kleinkind vashou. Ek was so lief vir stories oor feetjies toe ek klein was en ons bly in die mooie Bettysbaai met die Harold Porter Botaniese Tuin – die inspirasie vir die eerste storie, Wanneer is eendag?
Ons kleinseuns was mal oor allerhande motortjies toe hulle klein was. Die oudste een kon ure na boeke kyk met groot vragmotors en trokke – die inspirasie vir Husse met lang ore.
Wat is jou gunstelingkinderboek wat jy graag vir jou kinders/kleinkinders voorlees/voorgelees het?
Dis ’n boek waaroor ons eie kinders ook mal was: Kiboko deur Willi Baum. Dit gaan oor ’n seekoei wat saam met sy vriende gaan soek na water en in die president se swembad beland.
Wie is jou gunstelingskrywer en watter genre lees jy graag?
Ek lees nog altyd graag liefdesverhale, veral die klassiekes. Die Brontë-susters se werke, Henry James, George Eliot, asook Elizabeth Gaskell (haar North en South is een van my gunstelinge). Maar as ek net een moet kies, is dit Jane Austen. Die manier waarop sy tong-in-die-kies spot met die konvensies van haar tyd is uniek.
Iets wat min mense van jou weet?
Ek het ’n taamlike vervelige bestaan, wat ’n introvert soos ek soos ’n handskoen pas. Ek hekel en brei saans voor die televisie, is mal oor lees en geniet dit om kos te maak vir die mense vir wie ek lief is. |